You are currently browsing the category archive for the ‘Uncategorized’ category.

Image

 

 

In ons reeks oor Romeine hanteer ons eerskomende Sondag die vierde hoofstuk van die brief aan die Romeine – ek hoop jy kry êrens in die week tyd gemaak om saam aan die hoofstuk te lees.  Dis ‘n hoofstuk waar die geloofsreus Abraham ‘n belangrike rol speel.   As daar iets is wat ons by Abraham leer is dit dat ons ons nie moet vaskyk in die skynbaar oorweldigende werklikhede rondom ons nie.  Ons moet ook nie teen onsself en ons eie foute vaskyk nie.  Nee, ons moet ons oë op God se beloftes rig. Maar meer as dit: ons moet agter die belofte van God ook die God van die belofte raaksien – ware geloof beteken om te vertrou op God wat die onmoontlike moontlik kan maak.  Hy is immers die God van wie ons elke Sondag bely :  “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde…” 

 

 

Sterkte vir die week

Roelf

 

Image

 

Liewe Broer en Suster

 

Ek het die afgelope paar weke my telkens vasgeloop in getuienisse van mense.

 

Ja, ek sê vasgeloop want ‘n mens (praat eintlik van myself) raak so in ‘n groef ook oor jou eie godsdiens dat sulke gesprekke net weer moet plaasvind om mens te herinner en wakker te laat skrik dat God leef en dat Hy ‘n werklikheid ook vandag nog is.

 

Iemand vertel hoe hy niks geld gehad het nie, hy bid , en dan laat die aand bel iemand uit die bloute om te vra of hy nog die , of die produk het het want hy moet more oggend 07:00 dit op sy ‘bou site’ he.

 

Ander weer vertel oor gesondheid – hoe daar eers swaar en verdoemende nuus gegee is deur die dokters om net die volgende week deur die kyk na die sonars te vra ; wat het dan van die siekte geword?

 

Hoe lidmate, gewone mense luister na die stem van die Here oor ‘n besluit wat geneem moet word en dan kry hulle ‘n antwoord op so ‘n manier, dat dit vir almal vrede gee. 

 

So kan ek aanhou. Die Here is lewende werklikheid en Hy is betrokke by ons daaglikse lewe. Moenie moed verloor nie.

 

Ons aanbid ‘n wonderlike Here!

 

Mag jy hierdie week sy daad werklike krag en liefde ervaar.

 

Groete

Willem

Image

Ons is besig met ‘n reeks oor Romeine en sonder enige twyfel is die oorhoofse boodskap van die Romeine brief oor God se genade. Die naweek wat verby is het ek die film “Les Misérables” gaan kyk en ‘n ongelooflike verhaal van genade voor my sien afspeel. Ek wil met julle ‘n verhaaltjie uit die film deel.

 

Daar was ‘n man wat vir baie lank ‘n slaaf en ‘n gevangene was en wat toe vrygelaat is. Toe hy weer probeer om terug in die samelewing te kom, wou niemand hom aanvaar nie, hy kon nie eers ‘n plek kry om te slaap nie. Daar was toe ‘n priester wat hom ‘n slaapplek en kos gegee het en hy kon dit amper nie glo nie. Daardie aand besluit hy om ‘n paar goed in die kerk te steel en te hardloop, dan kan hy darem ‘n rukkie langer oorleef. Die wagte vang hom toe en sleep hom na die priester toe. Toe hulle by die priester kom, toe sê die priester vir die wagte hy het die goedere vir die man gegee, hulle moet hom vrylaat. Die priester sê toe vir die man, jy is vry om te gaan, gaan gebruik jou vryheid.

 

Vir die eerste keer kon hierdie man iets van God se genade en liefde beleef en dit het sy hele lewe verander. Hy het sy lewe aan God oorgegee en begin om ook genadig te leef teenoor ander mense.

Wanneer ons so deur die brief aan die Romeine lees, besef dat God aan jou genade bewys en gaan leef vanuit daardie genade.

Groete

Maartje

Image

Wanneer ons ‘n besluit moet neem wat kan ons doen om te weet wat die wil van die Here is?

 

Soveel hoofde soveel sinne! Elkeen het mos maar sy eie manier om seker te maak dat hulle die stem van die Here hoor.‘n Vriend van my sê altyd (in my woorde) ‘God praat deur stilte en alles daar buite om maak nie saak nie…’

 

Jare gelede het ‘n toegewyde lidmaat vir my hierdie raad gegee. Wanneer jy besluite moet neem en jy nie seker is of dit in die wil van die Here pas nie gebruik hierdie drie ligtorings sodat die boot veilig kan vaar.

 

1 Jy begin by die Skrif. Is dit waaroor jy moet besluit teen die Bybel of kan jy die besluit met gemak neem. So sal jy byvoorbeeld dadelik weet dat jy tog nie iemand kan doodmaak of iemand se goed kan steel nie.

 

2 As jy seker gemaak het dit is nie teen dit wat die Bybel leer nie dan vra jy jou vriende. Onthou wanneer jy vriende vra moet jy seker maak dat hulle nie voordeel uit jou besluit kan trek nie. Ek kry baie keer dat wanneer die man gesterf het dat een of ander familie lid finansiële advies kom gee net om te hoor dat hierdie familievriend self ‘n makelaar is en heelwat geld verdien uit die beleggings wat gemaak word!  Jou vriende is normaalweg nie so in die midde van die stryd om met ‘n tonnel visie te besluit nie. Hulle het ‘n bietjie afstand en kan jou regtig help.

 

3 Die derde ligtoring is natuurlik dat jou naby familie ook ‘n sê het oor die besluit wat jy neem. As jy jou wip omdat die kerk vol is en jy stap weg moet jy onthou dat jou vrou en kinders dalk graag wil kerk toe kom. Hulle het tog ook ‘n sê oor jou besluit .

 

Ek hoop dit help om die besluite wat jy hierdie jaar moet neem makliker te maak. Vra jou vriende en familie en soek die Here in die Woord op. Sterkte vir die jaar.

 

Groete

Willem

23 Januarie 2012

Mens kan amper nie glo dat Januarie 2012 amper op sy rug lê nie!  Ons jaag so dat ons skaars na mekaar en na God geluister kry.  Ons stop nie lank genoeg om te hoor wat God dalk vir ons mag beplan nie.  Dis amper soos die pa wat lief is vir sy seun en allerhande balspeletjies met hom speel en hom na rugbywedstryde toe vat, maar nooit na sy seun luister om te hoor wat hy wil doen nie…  Ons sê dat ons vir God lief het en dat ons Hom eerste in ons lewe wil stel, maar ons luister nooit na Hom om te hoor wat Hy vir ons lewens begeer nie.

 

Die Bybel is vol gedeeltes wat sê dat ons moet luister. Reeds vroeg in die Bybel (Deuteronomium 6:4) staan daar:  “Luister Israel, die Here is ons God.  Hy is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê…” of Hebreers 4:7 “Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: ‘Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..’”

 

Ek glo hierdie ‘luister na God’ is nie iets vreemds of hoogheiligs nie- dit het te doen met dit waarmee ons elke dag besig is.  Ons moet God kan raaksien in dit waarmee ons elke dag besig is.  Jesus wou hê dat ons God eerstehands leer ken – nie deur hoorsê nie.

 

Hierdie jaar gaan ons in ons gemeente baie meer aandag gee om na God  te luister, om God se stem in die doodgewone dinge raak te sien. 

  • Ons wil mekaar hierdie jaar uitdaag om ons skoene uit te skop en by God se voete te kom rus. 
  • Ons wil mekaar uitdaag om blomme te pluk en iets van God se liefde vir ander mense te wys. 
  • Ons wil mekaar uitdaag om nuwe brille op te sit en God op nuwe maniere te leer ken.
  • Ons wil mekaar uitdaag om die deure waaragter ons wegkruip oop te maak en saam met God in die wereld betrokke te raak en
  • Ons wil mekaar uitdaag om rustiger te lewe, meer saam met ander koffie te drink en so verhoudings te bou.

 

Kom ons maak hierdie week ‘n punt daarvan om te soek waar God alreeds rondom ons aan die werk is en om te luister wat Hy vir ons wil hê.

 

Sterkte vir die week

Roelf

 

 

 

 

’n Onbekende skrywer het die volgende stuk geskryf, dit het my aangegryp:

Toe roep daar ’n tortelduif

Die kind het gefluister: Here, praat met my!

Toe roep daar ’n tortelduif.

Maar die kind het nie gehoor nie.

Daarom het die kind uitgeroep:

Here, praat met my!

Toe rommel die donderweer in die lug.

Maar die kind het nie geluister nie.

Die kind het rondgekyk en gesê:

Here laat my U tog sien?

Toe skyn een van die sterre skitterblink.

Maar die kind het nie opgelet nie.

Daarom het die kind geskreeu:

Here, wys my ’n wonderwerk!

Toe word daar ’n nuwe lewetjie gebore.

Maar die kind het dit nie verstaan nie.

Daarom het die kind moedeloos gesmeek:

Here raak aan my sodat ek kan weet U is hier!

Toe steek God Sy hand uit en streel die kind.

Maar die kind het die skoenlapper weggejaag

En weggestap sonder om te besef wat gebeur het.

Hoe dikwels kyk ek en jy God se hand in ons lewens mis! God is ons Hemelse Pa wat vir ons omgee, Hy wil graag in ons behoeftes voorsien. Maar wanneer dit met ons swaar gaan twyfel ons vinnig in Sy bestaan en raak ons moedeloos en wil tou opgooi. Hou vas aan die wete dat God by jou is en jou oneindig lief het!

Liefde

Liesel

 

 

 

 

 

Hierdie naweek wat verby is, het ons getrek na ‘n ander huis. As mens so die bokse pak, dan pak jy ook sommer reg en sorteer al jou goed uit. Jy kom ook baie keer op goed af wat jy baie lanklaas gesien het, byvoorbeeld briefies, fotos, uitnodigings ens. Terwyl ek Vrydag so gepak het, kom ek af op ‘n boks met klomp briefies wat mense vir my geskryf het toe ek op Laerskool was. Ek begin toe om al die briefies een vir een deur te lees en verlang toe sommer terug na al die mense van my verlede.

Die lees van hierdie briefies het my ook sommer bietjie gehelp om te reflekteer op dit wat ek vir ander beteken. As ek vandag sou doodgaan, wie gaan my mis? En vandag wil ek dit vir jou vra: “As jy vandag doodgaan, wie gaan jou mis?”

Toe Jesus op aarde was het Hy vir ons kom wys hoe om te lewe, hoe om lief te hê en om te gee. Hy het dit so goed kom demonstreer dat ons nog vandag daardeur beinvloed en verander word. Ons moet by Jesus gaan leer oor die lewe, sodat wanneer jy die dag nie meer hier is nie, mense nogsteeds na jou voorbeeld kan verwys!

Gaan lees vandag die verhaal van Johannes 13, waar Jesus vir ons demonstreer hoe om nederig te wees!

Groete

Maartje

 

Daar is ’n verhaal wat vertel van ’n man wat op ’n luukse bootreis gegaan het, elke keer wanneer die boot se restaurant wonderlike disse vir die gaste voorgesit het, het die man ‘n stil plekkie op die boot gaan soek om daar die kaas en beskuitjies wat hy vir homself ingepak het te gaan eet. Teen die einde van die toer kon een van sy mede passasiers dit nie meer uithou nie en vra hom toe waarom hy die dekadente kosse wat aangebied was op die boot verruil het vir kaas en beskuitjies. Na hulle gesprek het die “kaas en beskuitjies man” agtergekom die boot se etes was al die tyd ingesluit by die prys wat hy vir sy bootrit betaal het.

So dikwels mis kinders van die Here uit op ‘n oorvloedslewe omrede ons dink ons mag nie die lewe geniet nie of omrede ons dink ons moet vroom wees. Ek dink God wil graag hê ons moet die lewe wat Hy vir ons as gawe gegee het aangryp met beide hande, Paulus sê ons moet elke goeie geleentheid aangryp!

Ek noem graag ’n paar dinge wat ek glo ons daarvan weerhou om voluit te leef:

  • Onvergenoegdheid en ondankbaarheid
  • Gedurige negatiewe gedagtes
  • Onvergewingsgesindheid
  • Om gedurig ander gelukkig te wil hou
  • Selfbeheptheid
  • Wantroue in God
  • Wettisme
  • Onbetrokkenheid by minder bevoorregtes
  • Die verkeerde persepsie dat ander ons gelukkig moet maak
  • Die verkeerde persepsie dat my omstandighede my gelukkig moet maak.

Moenie eendag spyt wees oor ’n lewe, ongeleefd nie!

Jesusliefde

Liesel

 

 

Verlede week tydens Pinkster het 2 Timotius 1:6-8 ‘n hele paar keer aan die woord gekom:

“Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie…”

 En nou is Pinkster verby.  Maar Pinkster is nooit verby nie – want God se Gees is altyd by ons teenwoordig. Daarom bid ek die volgende gebed vir jou:  

  • Mag jy in die dae wat kom die krag van God se Vuur deur jou are voel bruis. 
  • Mag jy sy Stem hoor as Hy met jou praat. 
  • Mag jy wanneer veranderings in jou lewe kom aan Hom vashou. 
  • Mag jy om God se kampvuur in sy kerk kom sit en saam met ander gelowiges hitte en lig aan die wêreld gee.
  • Mag jy iets van God se Vaderhart-liefde vir die wêreld ervaar en
  • Mag jy deel wees van die groot veldbrand om God se koninkryk te laat kom.

Roelf

+++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++

Internet geborg deur  ZA Wireless. Vir goedkoop betroubare internet diens gaan na www.zawireless.co.za

Ek ry vanmore agter een van die groot vragmotors met ‘n plakker agterop; “Have you hugged your kid today?” Natuurlik dink mens onmiddellik aan jou kinders en jy wonder wat doen hulle en of hulle regtig OK is?  Kon jy nie daardie dag dalk stadiger gepraat het en nie so skerp reageer het nie? Kon jy nie meer aan hulle gevat en drukkies gegee het nie… en ek dink  aan my gebede, bid ek genoeg vir hulle?

Dan tref dit my ; Is my lewe ‘n geloofsvoorbeeld vir hulle? Wanneer laas het ons geloof met mekaar gepraat of saam gebid?

Groeiende kerke is kerke met ‘n passie vir hulle jeug. Nee, die jeug is nie die kerk van more nie, net so min as wat bejaardes die kerk van gister is. Kerke wat groei, is kerke wat weet dat hulle baie tyd fondse en energie  in kinders en jongmense moet belê. Hoekom? Omdat 77% van alle bekerings  voor die ouderdom 21 plaasvind, met 64% hiervan reeds voor die ouderdom van agttien jaar. Sorg daarom dat jy gedurig tussen die jonges leef, beweeg en dinge doen. Sorg dat jou kerk ‘n hart vir jongmense het. Sorg dat die jonges se bediening aan die brand is en ‘n voorbeeld vir ander in die kerk stel van liefde vir die Here en van toewyding.

Gaan huis toe vandag en gee jou geliefdes die versekering dat jy  hulle liefhet , of dit met ‘n briefie, sms of drukkie is, maak soos Nike sê: Just do it!

Groete

Willem