You are currently browsing the category archive for the ‘Lewende Water’ category.

Image

Ons is besig met ‘n reeks oor Romeine en sonder enige twyfel is die oorhoofse boodskap van die Romeine brief oor God se genade. Die naweek wat verby is het ek die film “Les Misérables” gaan kyk en ‘n ongelooflike verhaal van genade voor my sien afspeel. Ek wil met julle ‘n verhaaltjie uit die film deel.

 

Daar was ‘n man wat vir baie lank ‘n slaaf en ‘n gevangene was en wat toe vrygelaat is. Toe hy weer probeer om terug in die samelewing te kom, wou niemand hom aanvaar nie, hy kon nie eers ‘n plek kry om te slaap nie. Daar was toe ‘n priester wat hom ‘n slaapplek en kos gegee het en hy kon dit amper nie glo nie. Daardie aand besluit hy om ‘n paar goed in die kerk te steel en te hardloop, dan kan hy darem ‘n rukkie langer oorleef. Die wagte vang hom toe en sleep hom na die priester toe. Toe hulle by die priester kom, toe sê die priester vir die wagte hy het die goedere vir die man gegee, hulle moet hom vrylaat. Die priester sê toe vir die man, jy is vry om te gaan, gaan gebruik jou vryheid.

 

Vir die eerste keer kon hierdie man iets van God se genade en liefde beleef en dit het sy hele lewe verander. Hy het sy lewe aan God oorgegee en begin om ook genadig te leef teenoor ander mense.

Wanneer ons so deur die brief aan die Romeine lees, besef dat God aan jou genade bewys en gaan leef vanuit daardie genade.

Groete

Maartje

 

 

Gister was presies tien jaar sedert die vliegtuie in die Twin Towers in New York vasgevlieg het.  Onskuldige mense het slagoffers geword van ‘n magstryd wat in die wêreld aan die gang is.  Vandag, na tien jaar word die ongemaklike vraag steeds gevra:   Hoe ver strek vergifnis? Is dit moontlik om op ‘n punt te kom dat jy iemand wat jou te na gekom het, kan en moet vergewe. Hierdie vraag word nie net deur die gesinne van die oorlewendes van die tragedie gevra  nie – elkeen van ons wat al deur iemand anders seergemaak is, vra dieselfde vraag. 

 

Wat ek oor die goed geleer het, is dat jy nie te gou moet vergewe nie.  Jy moet eers deur jou woede werk.  As jy te gou vergewe, sit jy ‘n deksel op jou emosie en dan manifesteer dit op ander maniere. 

 

Maar wat ek ook geleer het, is dat jy êrens op ‘n punt moet kom om wel te vergewe – om jou hande van die ander persoon se keel af te haal – nie ter wille van die ander persoon nie, maar ter wille van jouself.  Solank jou hande nog om die persoon wat jou seergemaak het, se keel is, kan jy nie verder beweeg nie.  As jy egter die persoon aan die Here oorgee en jou hande afhaal, kan jy weer vry beweeg.

 

Mag jy die week die genade ontvang om na ander mense deur God se oë te kyk en mag jy ter wille van jouself die genade ontvang om jou hande van die persone wat jou leed aangedoen het, se kele af te haal sodat jy vry kan lewe.

Roelf

 

 

Ek is besig om weer Victor Frankl se boekie “Sê Ja vir die lewe” te lees.  Hy was die Joodse sielkundige wat die Duitse konsentrasiekampe oorleef het.  Onder andere skryf hy: Soos die deure van ons lewensgeskiedenis agter ons toegaan, gaan daar voortdurend nuwe deure met nuwe moontlikhede oop.  Wie dus “toegaande deure” vrees, vergeet van die “oopgaande deure” van ons lewensgeskiedenis.

Mag jy in hierdie week die genade ontvang om verby die toe deure in jou lewe te kyk en leer om te begin klop aan nuwe deure, by jou werk, of in jou gesin, of waar jy dit ook al nodig het.  En onthou: God is by jou wanneer jy klop.

Groetnis

Roelf

 

Gister was Mandela-dag, die dag waar Suid-Afrikaners aangemoedig word om iets goeds te doen.

Dit laat my dink aan ‘n storie…

Daar was eendag ‘n vrou wat oppad was werk toe. Voordat sy by die werk kon kom, gaan staan haar kar sonder petrol en sy het haar selfoon by die huis vergeet. Al die mense ry net verby haar, behalwe een man met die naam Henry. Hy stop en vra of hy kan help. Die vrou vertel toe vir hom dat sy sonder petrol gaan staan het en dat sy laat gaan wees vir werk. Henry verseker haar dat sy nie bekommerd moet wees nie en ry gou om vir haar petrol te gaan koop. Toe hy terugkom wil die vrou hom betaal, maar hy sê vir haar dat sy nie moet nie. Al wat hy van haar verwag is om volgende keer as iemand oor haar pad kom wat hulp nodig het, dat sy hulle sal help!

Die aand gaan eet die vrou by ‘n restaurant en ‘n swanger vrou bedien haar. Sy kry die swanger vroutjie toe so jammer dat sy vir haar ‘n R1000 saam met die betaling los, met ‘n briefie wat sê! Ietsie vir die baba!! Die vrou was ongelooflik bly, want sy en haar man kry baie swaar en met die baba wat oppad is, is daar nog baie goed wat hulle nodig het. Die aand toe sy in die bed klim, is sy dankbaar oor die dag en gee haar man ‘n soen op sy wang en se, “ek is lief vir jou, Henry!”

Baie keer help jy ander mense, jy reik uit of gee iets weg, net om te besef dat jy eintlik die een is wat daaruit baat!

Gaan maak hierdie week ‘n verskil in iemand se lewe!

Groete

Maartje

Verlede week tydens Pinkster het 2 Timotius 1:6-8 ‘n hele paar keer aan die woord gekom:

“Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie…”

 En nou is Pinkster verby.  Maar Pinkster is nooit verby nie – want God se Gees is altyd by ons teenwoordig. Daarom bid ek die volgende gebed vir jou:  

  • Mag jy in die dae wat kom die krag van God se Vuur deur jou are voel bruis. 
  • Mag jy sy Stem hoor as Hy met jou praat. 
  • Mag jy wanneer veranderings in jou lewe kom aan Hom vashou. 
  • Mag jy om God se kampvuur in sy kerk kom sit en saam met ander gelowiges hitte en lig aan die wêreld gee.
  • Mag jy iets van God se Vaderhart-liefde vir die wêreld ervaar en
  • Mag jy deel wees van die groot veldbrand om God se koninkryk te laat kom.

Roelf

+++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++

Internet geborg deur  ZA Wireless. Vir goedkoop betroubare internet diens gaan na www.zawireless.co.za

Karel was ‘n baie leergierige seuntjie.  Hy wou weet hoe alles werk en het altyd baie vrae gevra.  Sy pa se broer, wie se vrou en kinders tydens die Tweede Wêreldoorlog dood is, het by hulle aan huis gewoon.  Hierdie oom was heeltemal ontnugter en baie sinies.  Hy het baie van sy broerskind gehou, maar die knapie se uitvraery het hom heel dikwels teen die mure uitgedryf. Een oggend, toe hulle na Sondagskool huis toe stap, het die mannetjie weer met sy vrae begin. Die oom het skielik op sy hurke voor hom gaan sit en gesê:  “Vertel jý bietjie vir my waar God is, dan gee ek vir jou ‘n roomys.”  Na ‘n oomblik se stilte het Karel hom stip aangekyk en geantwoord: “Vertel Oom vir my waar Hy níe is nie, dan gee ek Oom ‘n hele bak roomys.”

Ek bid dat jy in hierdie week die alomteenwoordigheid van die Here sal ervaar!  Mag jy hierdie week sensitief raak vir die verskillende maniere hoe die Here jou in die week aanraak en mag jy daarin slaag om ander mense te help om vir God ook in die klein dingetjies raak te sien.

Lees weer Ps 139

Lekker week

Roelf

die Jesus-mens

Die laaste ruk raak ek opnuut weer ingetrek in die betekenis van Jesus as ‘n mens. Daar is ‘n stuk rykdom daarin dat ons as Christene vir mekaar sê dat die duidelikste plek waar ons God gesien het in ‘n mens was. Vleis en bene. Emosies en intellek. Eergisteraand by die matrieknagmaal was dit Jesus, die een wat baie bang geword het vir die kruis, waarby ons stilgestaan het en daarna Jesus die een wat vir sy vriende om ‘n etenstafel brood en wyn gee. Hierdie Jesus gryp my aan.

Dit was ook hierdie Jesus was in die vroeë kerk een van die eerste stukke groot kontroversie veroorsaak het. Ons sien die tekens daarvan al in die boeke van die nuwe testament wat laaste geskryf is (o.a Johannes evangelie), maar veral in van die geskrifte van die kerkvaders kort na die Nuwe Testament. Daar het die idee in die algemene filosofie ontstaan dat die materiële boos is, en slegs die spirituele goed is. Dit was genoem die gnostiek. Die uitvloeisel hiervan was dat party gesê het dat Jesus dan nooit ‘n mens kon gewees het nie, want as hy ‘n liggaam gehad het, dan was dit immers boos. Een manier hoe dit gesê is, was om te sê dat Jesus net soos ‘n gees rondbeweeg het tussen ons, en geen voetspore getrap het nie.

In ons eie tyd word daar weer baie geskryf hieroor. Van ons slim filosowe wys uit dat die kerk die gevaar loop om weer in hierdie strik te trap. Ja, ons bely nog dat Jesus mens was, maar wanneer hulle fyn analiseer waarmee ons besig is, hoe ons dink oor God, geloof, godsdiens, en ‘n lewe in navolging van Jesus, dan lyk dit amper asof ons ‘n nuwe tipe gnostiek aanleer. Hiermee bedoel hulle dat ons die spirituele as die grootste goed uitpak, en die dag tot dag lewe in navolging van Jesus as eintlik net gewoon, of met tye selfs as ‘n bose wêreld waarvan ons net moet ontsnap.

Ek tel dit op by van ons jongmense, wat skuldig voel omdat hulle nie “spiritueel” genoeg is nie, omdat hulle nie die “spirituele belewenisse” het wat van hulle vriende van vertel nie. Een van my baie goeie vriende maak so rukkie terug die opmerking dat hy optel dat ons baie maklik sommer sal sê dat hoe meer “spiritueel” of “Charismaties” iemand is, hoe meer “Christelik” is hulle. Dalk was dit wat gemaak het dat ek Jesus van Nasaret meer en meer weer waardeer, die mens tussen mense, die een wat sy tyd saam met ander stukkende mense rondom etenstafels spandeer het, die een wat ek glo grappies gemaak het (van sy gelykenisse het nogals ‘n klomp skerp opmerkings in as jy dit lees teen die agtergrond van die tyd), die een wat ons sê: As jy wil sien hoe God lyk, kyk na die lewe van daai mens.

Mag jy hierdie week jou eie mensheid ontdek. Hierdie liggaam waarin jy is. En hoe God daardeur werk. En wees net ‘n mens saam met ander mense, en leef God se liefde waarvan Jesus geleer het in daai verhoudinge uit.

Cobus

Eer jou gedagtes God?  

’n Ou Indiaan het eenmaal vertel dat daar gedurig, figuurlik gesproke twee wolwe binne hom baklei, ’n goeie wolf en ’n slegte een. Op ’n dag het een van sy stamlede gevra watter een van die wolwe binne hom die geveg wen. Die wyse ou man het geantwoord “Die wolf vir wie ek kos gee!” Hiermee het hy te kenne gegee dat die dae wanneer hy gedurig slegte dinge oordink, die dae is wanneer die slegte wolf seëvier. En die dae wanneer hy die goeie oordink, wen die goeie wolf.

Soveel mense gee hul harte vir die Here maar nie hul gedagtes nie! Het jy geweet jy kan God eer met dit wat jy dink? Victor Hugo het gesê “Sekere gedagtes is gebede.”

Ons hoef nie elke gedagte wat in ons koppe val te oordink nie, ons kan kies wat ons dink! Ons gedagtes werk soos ’n ratkas. Ons kan besluit in watter rigting ons wil gaan deur die regte rat te kies. Selfs sielkundiges is dit eens dat ons lewe beweeg in die rigting wat ons gedagtes oorheers.

Natuurlik is dit nie altyd so maklik om jou denke doelbewus in ’n ander rigting te stuur nie, ons kan alleen met God se hulp kies om eervolle gedagtes hê. Daarom stel jouself volledig tot Sy beskikking, sodat Sy Gees oor jou gedagtes heers en nie jou natuurlike geaardheid nie. As jy God toelaat kan Hy jou denke vernuwe en so jou hele lewe in ’n nuwe rigting instuur.

Rom 12:1-2

En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens … laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

Interessante feit: Medici erken vandag dat negatiewe, afbrekende gedagtes en bitterheid ’n invloed op ’n mense se bloeddruk kan hê, maagsiektes kan veroorsaak en jou algehele welstand aantas. Catherine van Sienna het gesê: Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak!

Liesel Krause Wiid

Liewe vriende

Ons almal twyfel, soms is dit oor klein dingetjies, soos of jy die regte rok gekoop het, maar soms is dit oor groot dinge soos of God bestaan?

Het jy al getwyfel oor sekere aspekte van ons geloof? Baie keer as ons twyfel dan laat dit ons skuldig voel, ons is mos geleer dat mens God nie mag bevraagteken of mag twyfel nie. Ons voel dat as ons twyfel, dan glo ons mos nie genoeg nie en dan gaan ons dalk nie hemel toe nie.

Die vraag is nie of mens twyfel nie, maar hoe dink jy oor die twyfel?

As ons die Bybel lees dan is daar ongelooflik baie verhale wat gaan oor twyfel. In Gen 12-21 is die verhaal van Abraham en ons sien hoe hy twyfel. ons sien selfs in Matt 28 hoe Jesus se dissipels twyfel. Ons sien dus in die Bybel verhale dat God mense gebruik ten spyte van hulle twyfel. Jy hoef dus nie alles uit te sorteer voor God jou kan gebruik nie, Hy gebruik jou selfs in die tye wat jy twyfel. Daar is ‘n oulike spreekwoord wat sê “Action leads to clarity.”

Daar is 3 goed wat belangrik is om te onthou as mens twyfel:

1. Jy mag maar twyfel

2. Maak vrede met sekere goed. Maak bv vrede met die feit dat jy nooit alles van God gaan weet nie,

3. Vertrou op God dat Hy jou op die regte tyd sekere goed sal wys.

Sterkte vir die week!

Maartje

Ek hoef jou nie baie van die spoed te vertel waarteen ons elke dag jaag nie.  Vir party van ons is dit ‘n oorlewingstryd waar ons spartel om kop bo water te hou.  Ander van ons probeer so baie balle in die lug hou dat jy nie tyd vir iets anders kry nie.  En dis nie net volwassenes wat teen tyd lewe nie, ons kinders word ook hieraan blootgestel.  In ‘n ondersoek wat in ‘n Japanse skool gedoen is, was die antwoord op een van die vrae ‘n groot skok vir die onderwysers.  Op die vraag: “Is jy moeg?” het 80 % van die kinders in die laerskool “Ja!” geantwoord.  98% van die hoërskoolkinders se antwoord was “Ja!”  

Die komediant, Lily Tomlin, het op ‘n keer gesê:  “The trouble with the rat race is that even if you win, you’re still a rat.”  Die meeste van ons het behoefte om uit die rotteresies te klim en partykeer net te rus.  Ek glo daar is net een oplossing vir ‘n ware, langdurige rus.  Dis ‘n lewenslange verbintenis met Jesus Christus, wat self gesê het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir jou rus gee” (Matteus 11:28)

Mag jy hierdie week tyd kry om sommer net partykeer in die Here te rus!

Sterkte vir die week

Roelf