Image

Wanneer ons ‘n besluit moet neem wat kan ons doen om te weet wat die wil van die Here is?

 

Soveel hoofde soveel sinne! Elkeen het mos maar sy eie manier om seker te maak dat hulle die stem van die Here hoor.‘n Vriend van my sê altyd (in my woorde) ‘God praat deur stilte en alles daar buite om maak nie saak nie…’

 

Jare gelede het ‘n toegewyde lidmaat vir my hierdie raad gegee. Wanneer jy besluite moet neem en jy nie seker is of dit in die wil van die Here pas nie gebruik hierdie drie ligtorings sodat die boot veilig kan vaar.

 

1 Jy begin by die Skrif. Is dit waaroor jy moet besluit teen die Bybel of kan jy die besluit met gemak neem. So sal jy byvoorbeeld dadelik weet dat jy tog nie iemand kan doodmaak of iemand se goed kan steel nie.

 

2 As jy seker gemaak het dit is nie teen dit wat die Bybel leer nie dan vra jy jou vriende. Onthou wanneer jy vriende vra moet jy seker maak dat hulle nie voordeel uit jou besluit kan trek nie. Ek kry baie keer dat wanneer die man gesterf het dat een of ander familie lid finansiële advies kom gee net om te hoor dat hierdie familievriend self ‘n makelaar is en heelwat geld verdien uit die beleggings wat gemaak word!  Jou vriende is normaalweg nie so in die midde van die stryd om met ‘n tonnel visie te besluit nie. Hulle het ‘n bietjie afstand en kan jou regtig help.

 

3 Die derde ligtoring is natuurlik dat jou naby familie ook ‘n sê het oor die besluit wat jy neem. As jy jou wip omdat die kerk vol is en jy stap weg moet jy onthou dat jou vrou en kinders dalk graag wil kerk toe kom. Hulle het tog ook ‘n sê oor jou besluit .

 

Ek hoop dit help om die besluite wat jy hierdie jaar moet neem makliker te maak. Vra jou vriende en familie en soek die Here in die Woord op. Sterkte vir die jaar.

 

Groete

Willem

Advertisements