23 Januarie 2012

Mens kan amper nie glo dat Januarie 2012 amper op sy rug lê nie!  Ons jaag so dat ons skaars na mekaar en na God geluister kry.  Ons stop nie lank genoeg om te hoor wat God dalk vir ons mag beplan nie.  Dis amper soos die pa wat lief is vir sy seun en allerhande balspeletjies met hom speel en hom na rugbywedstryde toe vat, maar nooit na sy seun luister om te hoor wat hy wil doen nie…  Ons sê dat ons vir God lief het en dat ons Hom eerste in ons lewe wil stel, maar ons luister nooit na Hom om te hoor wat Hy vir ons lewens begeer nie.

 

Die Bybel is vol gedeeltes wat sê dat ons moet luister. Reeds vroeg in die Bybel (Deuteronomium 6:4) staan daar:  “Luister Israel, die Here is ons God.  Hy is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê…” of Hebreers 4:7 “Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: ‘Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..’”

 

Ek glo hierdie ‘luister na God’ is nie iets vreemds of hoogheiligs nie- dit het te doen met dit waarmee ons elke dag besig is.  Ons moet God kan raaksien in dit waarmee ons elke dag besig is.  Jesus wou hê dat ons God eerstehands leer ken – nie deur hoorsê nie.

 

Hierdie jaar gaan ons in ons gemeente baie meer aandag gee om na God  te luister, om God se stem in die doodgewone dinge raak te sien. 

  • Ons wil mekaar hierdie jaar uitdaag om ons skoene uit te skop en by God se voete te kom rus. 
  • Ons wil mekaar uitdaag om blomme te pluk en iets van God se liefde vir ander mense te wys. 
  • Ons wil mekaar uitdaag om nuwe brille op te sit en God op nuwe maniere te leer ken.
  • Ons wil mekaar uitdaag om die deure waaragter ons wegkruip oop te maak en saam met God in die wereld betrokke te raak en
  • Ons wil mekaar uitdaag om rustiger te lewe, meer saam met ander koffie te drink en so verhoudings te bou.

 

Kom ons maak hierdie week ‘n punt daarvan om te soek waar God alreeds rondom ons aan die werk is en om te luister wat Hy vir ons wil hê.

 

Sterkte vir die week

Roelf

 

 

 

 

Advertisements