Carl Jordaan, een van ons ouderlinge, skryf die volgende:
Ek en die manne sit om die tafel in die klein biblioteek. Die atmosfeer is gewyd. Die groepie word begelei deur ʼn jong man wat hier leer kitaar speel het. Hulle sing uit hulle bundel liedjies soos “One day at a time” en “My sins were higher than a mountain”. Voordat ons met die Bybelstudie begin, wil hulle “Amazing Grace” sing, maar ek vra dat dit oorstaan tot na die studie, want vandag behandel ons Lukas 15 – die gedeelte oor die verlore seun. Daarna kan hulle die lied wat geskryf is deur die bekeerde seerower, John Newton sing, en kan woorde soos “Who saved a wretch like me” betekenis kry.
Hierdie manne het foute gemaak waaroor hulle skaam voel, goed waaroor hulle die Here om vergifnis smeek, goed wat hulle opregte berou oor het, maar mens kan nou eenmaal nie die horlosie terugdraai nie. Hulle dien almal lang termyne uit. Wat hulle gedoen het en hoe hulle pad verkeerd geloop het, maak nie saak nie. Wat saak maak is dat hulle ook soos die verlore seun by die varkpeule uitgekom het, en toe ontdek het dat daar hoop is. Daar is ʼn Vader wat verlang dat hulle huis toe moet kom en wat hulle met vreugde en blydskap inwag nadat Hy dag-na-dag die vlaktes ingestaar het. Dit is liefde so enorm, so vêr bo ons begrip, volkome, volmaak en sonder verwyt.
Maar daar is ook ʼn wêreld wat soos die van die oudste seun, wat gereed staan om te veroordeel en te verwerp, wat nog nie die omhelsing van ʼn verlangende Vader verstaan nie, wat net nie kan glo dat God mense se lewens radikaal kan verander nie en hier in die gevangenis gebeur daar sulke wonderwerke.
Een man verlang na sy familie, maar hy word nooit besoek nie. Hy is afgesny. Nog ʼn man bel sy dogter omdat hy gehoor het dat sy verloof geraak het, hy wil sy blydskap deel en sy sit die foon in sy oor neer.
As God met ander oë na mense kyk wat hulle bekeer , moet ons nie ook dieselfde doen nie? Laat ons dan anders optree as die oudste seun met sy oordeel en verwyte. Is dit nie dalk juis die oudste seun wat die verlore seun is in die verhaal nie?
Ek wil vra dat ons vir die gevangenis sal bid. Dat ons met ʼn ander bril na hulle sal kyk. Onder hulle is daar ware en opregte gelowiges wat vergifnis en hoop gevind deur die volmaakte liefde van God.
Bid ook vir seën op die werk wat onder andere ds Danie Kotze, Willem van Staden, dr Kobus Nieuwenhuizen en ekself daar verrig.
Carl Jordaan